Op hierdie bladsy deel ek graag ‘n paar wenke vir die bruid. Hierdie wenke kom uit ervaring en julle kan dit regtig ter harte neem:

1) Maak seker dat jy en jou troufotograaf die datums en tye mooi koordineer. Gesels gereeld met mekaar en maak seker dat jy die fotograaf inlig van enige verwagtinge wat jy het ten opsigte van die foto’s. Dieselfde geld natuurlik vir reelings met ander persone soos die predikant, die plek waar die onthaal gehou word ens.

2) Maak seker dat die tyd van jou troue vir die fotograaf genoeg geleentheid gee om nog in helder lig foto’s te neem. As jy in die winter om 16:00 trou en die diens duur tot 17:00 is daar baie min tyd om familiefoto’s sowel as bruidspaarfoto’s te neem voordat dit donker is.

3) As jy in die middag trou, hou gerus ‘n botteltjie water byderhand. Dit raak nogal warm en ‘n bietjie water is handig.

4) As jy in die veld gaan foto’s neem, neem gerus ‘n paar gemaklike skoene of plakkies saam – dit maak die loop tussen die foto’s baie makliker en gemakliker.

5) Probeer, indien moontlik, om die week voor die tyd saam met die fotograaf te gaan en te kyk na moontlike plekke vir mooi foto’s. Dis baie makliker as jy vooraf beplan het, as wat julle op die dag van die troue soek na geskikte plekke.

6) Vir familiefoto’s – maak seker daar is ‘n familielid wat help om almal bymekaar te bring en probeer die familie so gou moontlik na die diens afneem, terwyl almal nog bymekaar is. ‘n Lysie met name is ‘n uitstekende idee.

7) Probeer gerus vooraf die persoon wat jou grimering doen om ‘n proeflopie te doen, en, indien moontlik dat die fotograaf jou dan afneem. Baie wit of olierige grimering kan mens onnatuurlik laat blink op jou troufoto’s. (Jy gaan in elk geval straal)

8) Dink gerus aan temafoto’s wat jy later in jou album of huis wil plaas. Sommige bruide help om pretfoto’s te neem met iets soos Cowboy klere of waterstewels. Doen iets wat by jou persoonlikheid pas.

9) Indien jy nie bruidsmeisies het nie, laat ‘n suster of vriendin saamkom om jou te help met die rok ens tydens die fotosessies. Maak seker dit is iemand met wie jy gemaklik en ontspanne voel.

10) Bevestig met die troufotograaf wanneer jy jou foto’s kan verwag. Ek glo dat jy nie meer as twee weke na die troue jou foto’s hoef te ontvang nie. Persoonlik probeer ek dit vir die bruid gee sodra sy van haar Wittebrood af kom. Maak doodseker jou fotograaf gee foto’s redelik vinnig vir die bruid. Ek weet van gevalle waar die bruid meer as ses maande moes wag. Dit is net nie regverdig nie.